As christene is die opstanding sekerlik die belangrikste gebeurtenis in ons geskiedenis. Dit is waarop ons ons hoop vir verlossing bou! Dit is ook die rede dat ons op Sondae die “Sabbat” vier en nie op Vrydae van sononder tot Saterdae sonop (soos die gebruik was in die tyd van die Bybel) nie – Dit is die dag waarop Jesus opgestaan het! Daar is darem so baie dinge wat egter in die Bybel vir ons moeilik is om te glo... Dat ‘n ‘mens’ vir ons sonde gesterf het, wat nog te sê dat Hy weer lewendig geword het nie? Diep binne in ons wil wil die twyfel deurskemer en dan berispe ons onsself en besluit dat ons nie daaroor mag dink of wonder nie! Is ons net geïndoktrineer deur ons ouers tydens ons grootwordjare of is die opstanding vir ons ‘n werklikheid? Julle sal dalk sê: “skuif opsy die weerlig gaan jou tref!”, soos ons soms ligtelik vir mekaar sê as iemand durf waag die moeilike vrae vra! Hoe kan ons weet dat die opstanding waar is en dat Jesus ons sonde op Hom geneem het? Kan ons feite uit die Bybel aanhaal om die opstanding, ons geloof of wonderwerke te staaf? Natuurlik vanaf die woorde van Jesus self wat Sy kruisiging voorspel tot die vier verskillende evangelies geskryf deur verskillende mense! Maar dit neem in ag dat die persoon met wie jy praat (en soms jyself) die Bybelse historiese feite moet glo. Die probleem? Ons almal verwoord ons geloof anders... Selfs al dink ons nie so nie – lyk nie een van ons se geloof eenders nie (as dit iets sou wees wat meetbaar is). Hoeveel te meer as dit by wonderwerke – of selfs die Opstanding kom!? Die beste manier hoe ek binne myself omgaan met die verskil in mense se geloof – vind ek in die Johannes Evangelie se vertelling van die opstanding in Johannes 20:1-31. Die Sondag more vroeg kom Maria Magdalena by die graf en sien dat Jesus se liggaam weg is. Sy hardloop en vertel die ander dissipels dat hulle sy liggaam gesteel het. Twee van hulle – Petrus en die Liefling Dissipel (Johannes)- hardloop om eerste by die graf te kom. Johannes kom eerste en loer in – maar gaan nie in nie. Petrus kom laaste daaraan, maar gaan eerste in en sien die doeke daar lê. Dan gaan Johannes ook uiteindelik in en sien die doeke. Al twee van hulle glo dadelik toe hulle die doeke sien! Dan vertel Johannes hoe Maria Magdalena by die graf gestaan en huil het. Sy het nie geglo nie. Sy dink Jesus se liggaam is gesteel en toe Hy self voor haar verskyn sien sy Hom sommer vir die tuinier aan! Eers toe Hy haar naam roep – besef sy wie Hy is. En sy glo! In die laaste deel van Johannes se vertelling van die Opstanding het ons vir Tomas... Die een wat daarop aandring om sy vingers en hande in Jesus se wonde te druk voor hy sal glo. Uiteindelik nooi Jesus hom ook om dit te doen, waarna Tomas bely: “My Here en my God!!” Jesus sluit sy verskyning aan die Dissipels ook dan af met: “Glo jy nou omdat jy My sien? Gelukkig is die wat nie gesien het nie en tog glo!” Elkeen van die Dissipels het op ‘n ander manier geglo in die Opstanding. Petrus en Johannes toe hulle die doeke sien (alhoewel Johannes eerste daar was, maar nie wou ingaan nie – dalk bang dat Jesus se liggaam nog daar sou wees en dit beteken Jesus het nie opgestaan nie!?). Maria glo nie as Jesus voor haar staan nie, maar eers as hy haar naam roep. Tomas glo nie voor hy sy hande in Jesus se wonde mag druk nie... Dis okay om te twyfel soos Tomas. Dis ook okay om nie daaroor te wil redeneer nie, omdat jy dalk soos Petrus en Johannes instinktief seker is oor die opstanding. Jesus sê dan self dat Hy weet mense gaan sukkel om dit te glo. Een ding wat al die dissipels egter in gemeen gehad het, was dat hulle Jesus liefgehad het en toegelaat het dat Hy Homself aan hulle openbaar na die Opstanding op hulle eie manier. Tomas MOES EERS sy hande in die wonde druk. Maria MOES EERS haar naam uit Jesus se mond hoor. Petrus en Johannes MOES EERS die opgevoude doeke sien... En so MOET ek en Jy die Here op ons eie manier in ons lewens ontmoet. Die Opgestane Heer! Hy weet wie jy is, en waar jy vandaan kom. Hy weet waarmee jy in die geloof worstel... Maar as ons Hom toelaat sal ek en jy ook die Opgestane Heer ontmoet wanneer hy vir ons elkeen Homself Openbaar deur die Heilige Gees. Daar is nie ‘n geloof-resep nie. Die Opstanding is nie iets wat wetenskaplik bewys of gestaaf kan word nie. Tog bly dit die Hoop van ons Geloof: Die Hoop dat alles nie maar net eindig by die Dood nie. Dat die lewe altyd sterker is as die dood. So of jy ‘n Petrus is, of ‘n Johannes, of ‘n Maria of selfs ‘n Tomas – Die Opgestane Heer bring vir ons Hoop in hopelose omstandigehede, waar ons is, soos ons is. Eddie
0 Comments
!!!Vrywaring: As jou kinders uitsien na die koms van die Paashaas of Kersvader in Desember, moenie hulle verder laat lees nie!!!
Ons is nou al vir ‘n rukkie besig met die viering, as ‘n mens dit so kan noem, van die lydenstyd van Jesus. Elke jaar word dit oorskadu deur plakkate van hasies en eiers. Kinders raak opgewonde oor ‘n paaseierskattejag en die vooruitsig van hope sjokolade! Die vraag wat ouers baie mee worstel is, is dit verkeerd dat my kinders deelneem aan hierdie fantasie-spel? Dit geld natuurlik ook vir Kersvader en tot ‘n mindere mate die tandmuis, feetjies en kabouters. Ek het al gewonder of daar skade aangerig word wanneer kinders uiteindelik uitvind hierdie was ‘n ‘speletjie’ en of hulle alles waarin hulle glo begin in twyfel trek as hulle uitvind hulle ouers het die waarheid verberg! Gaan hulle ophou glo in Jesus en God? Daar is natuurlik die kans dat dit tog die gevolg kan wees en sonder om te sê hoe ouers moet optree, sê ek liewer net dat daar met versigtigheid gehandel moet word. Daar is so baie lelik in ons ou wêreld, sekerlik kan ‘n bietjie pret nie skade doen nie! Die feite volgens die Bybel is brutaal, hartseer en intens. Ja, dit is alles waar! Natuurlik moet die kinders se ouderdom in ag geneem word wanneer die feite van Jesus se kruisdood oorgedra word. Maar moet nie vergeet van die wonderwerk wat saam met die kruisdood gaan nie. Jesus het opgestaan! Hy het die lelik, die dood, ons sonde, alles wat donker is oorwin! So in plaas daarvan dat die christelike betekenis van hierdie tyd oorgeneem word deur die fantasie, gebruik hierdie geleentheid om die ware boodskap vas te lê. As hulle paaseiers wil koop, herinner hulle aan die rede waarom daar Paasfees gevier word. Vertel vir hulle dat die paaseier-geskenk ons herinner aan God se grootste geskenk, Jesus Christus wat al ons sonde op Hom geneem het deur aan die kruis te sterf. As hulle ‘n eier-skattejag wil hou leer hulle dat ons nooit vir God se genade, liefde of vergifnis hoef te gaan soek nie. Hy gee dit vir ons, moeitevry, en ons moet dit net aanvaar! Die beste van alles is dat dit ook verniet is vir ons! Die prys is vir ons betaal. So eet gerus daardie heerlike paaseier maar onthou om die boodskap altyd weer terug te bring na die ware betekenis. Tot volgende maand, matigheid voor oë met die sjokolade! Eddie |
AuthorEduard Enslin Archives
February 2017
Categories |