Ek het hierdie week uitgevind wat die nadeel is van die slim kinders wat ons ontwikkel deur hulle gedurig te stimuleer met inligting en wie ons aanmoedig om te dink! :-) ‘n Sekere klein wysneus graad 2 seuntjie het die vraag vir sy ma gevra wat baie groot mense nie durf vra nie: “Mamma, as God alles gemaak het, wie het Hom gemaak?” Nou ja, ons kan seker die tradisionele christen-ding doen en net sê ons het nie al die antwoorde nie en ons moet eendag vir God vra in die hemel. Dit hou ten minste die kinders gelukkig vir ‘n klein rukkie. Maar vir hoe lank en hoe antwoord ons die ‘groot’ mense wat dit as rede gebruik om nie in God te glo nie? Soos voorheen in een van my preke genoem, is die mens geneig om God binne ons eie raamwerk van Wetenskap, tyd en ruimte te plaas. Wetenskap is al voorheen as ontoereikend bewys soos wat meer bewyse gevind word. ‘n Goeie voorbeeld hiervan is natuurlik dat wetenskaplikes geglo het die Aarde was plat en later uitgevind het dat dit inderdaad rond is. En dan die kwessie van tyd en ruimte! God sê vir Moses en by implikasie vir ons in die Bybel: “Ek is” en ons wil Hom nouer definieer om binne ons kennisraamwerk te pas, met ander woorde ons wil die "Ek is……" sin voltooi. Ons sal moet GLO dat ons nie God binne hierdie raamwerk kan definieer nie want ons kan ongelukkig nie hierdie vrae wegredineer met universeel-aanvaarbare argumente nie. Geloof opsigself is eintlik waar ons struikel. Ons het hieraan geraak in die blogartikel oor die opstanding. Aan die ander kant het Wetenskap ook nie die antwoorde nie. Dit kan nie 'n verduideliking bied vir die gevoel wat ons ondervind in terme van God se teenwoordigheid of afwesigheid nie. Dit beteken slegs dat alles nie deur of Wetenskap of Bybelverwysing bewys of beskryf kan word nie. Ons weet op alle vlakke net ten dele en sal nooit alles weet nie. Iemand het dit eendag baie oulik verduidelik. Hy't gesê ons is amper soos 'n matrasgogga. Ons verwysingsraamwerk is slegs dit waarvan ons weet maar dit maak nie die res onwaar nie. 'n Bedgogga se verwysingsraamwerk is slegs die matras en hy weet nie eers van die wêreld wat buite dit bestaan nie. Ons as mens verstaan dat dit nie slegs die matras is wat bestaan nie en dat daar meer is as waarvan die gogga weet. So ook is ons verwysing die Aarde, en so 'n klein deeltjie van die heelal wat ons al ontdek het, maar ons het geen idee wat verder as dit strek nie. Die goeie nuus is God weet!! So wat antwoord ons daardie graad 2 seuntjie? Amper soos die oumense sou sê: “Wag tot ons in die hemel kom, dan vra ons vir God!” maar brei dalk net uit om te sê ons kan nie God verstaan deur te dink soos mense nie omdat Sy reëls anders is as die mens s’n of dit wat die mens verstaan. Ons sal graag wil hoor hoe julle daaroor dink en voel. Los asseblief vir ons kommentaar op ons webwerf oor hierdie of ander aangeleenthede waar ons mekaar kan bystaan. Tot volgende keer, geniet al die vrae van ons kinders wat ons geloof toets! Eddie
1 Comment
|
AuthorEduard Enslin Archives
February 2017
Categories |