Oral rondom ons is dit weer tyd vir buitensporige hartjies, blomme, beertjies. Noem dit, dit is daar, alles in rooi!!! Mense skarrel om plekke te bespreek by hulle gunsteling eetplek omdat dit die regte ding is om te doen. ‘n Maand wat die bedoeling het om liefde in oorvloed te laat vloei het, durf ek dit waag sê, oppervlakkig geword. Ons wys mense hoe ‘lief’ ons hulle het deur goed vir hulle te koop maar ons alledaagse woorde, aandag, tyd en liggaamshouding weerspreek hierdie koopdaad. Daar is so baie verbrokkelde/verbrokkelende verhoudings in ons wêreld. Man en vrou, ma en kind, boeties en sussies wat nie met mekaar wil praat of van mekaar wil weet nie. Die rede volgens my… niemand is bereid om die fokus van hulself na die ander te verskuif nie. Ons veg vir ons eie regte in plaas van die behoud van ons verhoudings. Die Bybel is vol teksverse wat ons lei om aan ons self te sterf. Twee hiervan is: Johannes 12:24: “Dit verseker ek julle: As ‘n koringkorrel nie in die grond val en sterwe nie, bly hy net een; maar as hy sterwe, bring hy ‘n groot oes in.” Lukas 17:33: Elkeen wat sy lewe probeer behou, sal dit verloor, maar elkeen wat dit verloor, sal dit behou.” Hierdie raad is nie net advies om ons in die Hemel te kry nie maar ook ons lewe op aarde draaglik en selfs lekker te maak! So, as jy weet dat jou verhouding met jou man/vrou, ouers of ander sibbe net oppervlakkig of glad nie bestaan nie, neem die eerste stap. Dit maak nie saak wie reg was nie. Lê jou trots neer en probeer jouself in hulle skoene plaas. Maak tyd vir sinvolle gesprekke om dinge uit te sorteer. As dit nie werk om die verhouding te verbeter nie, vergewe en beweeg aan. Die ander party moet ook kies om jou olyftakkie te aanvaar. Maar moenie maak of jy probeer het en sommer net opgee omdat hierdie soos ‘n uitweg klink nie. :-) Soos die gesegde sê: Die lewe is te kort vir al hierdie nonsens!” Tot volgende keer groet ek met Maya Angelou se woorde: “Hate, it has caused a lot of problems in the world, but has not solved one yet.” Kies liefde, elke dag! Eddie
3 Comments
Soos Kersfees nader kruip, bevraagteken ons gereeld die gebruike rondom hierdie fees. Soos alles in die lewe is dit belangrik om dit van ‘n bybelse perspektief te verstaan.
Ek sien geen fout met ‘n tradisionele kersboom nie! Sommige mense voel anders. Hulle redeneer dat dit uit heidense tradisies gebore is. Die storie loop dat Boniface, ‘n Engelse sendeling in Duitsland in die 1800’s, die eerste kersboom ingestel het om offerandes aan die god Odin se heilige akkerboom te vervang in huldeblyk aan Christus. Ander meen weer dat Martin Luther die kersboom ingebring het met kerse. Hoe dit ookal sy, dit blyk tog wel ‘n Christelike agtergrond te hê. Selfs al het dit ‘n heidense oorsprong, beteken dit nie dat ons dit nie kan geniet nie. Ek verduidelik hierdie stelling met die volgende beeld: Gedurende die 2de wêreldoorlog het die Amerikaanse soldate sekere eilande gebruik as kort-termyn landingstroke en voorraad-depots. Voor daardie tyd het die inboorlinge nog nooit moderne tegnologie van so naby af gesien nie. Groot vragvliegtuie gevul met ‘n verskeidenheid goedere was ‘n eerste. Dit was gevul onder andere met sigaretaanstekers (wat hulle as wonderwerke beskou het) Jeeps, yskaste, radios, kraggereedskap and verskye kossoorte. Toe die oorlog verby was het die eilandbewoners besluit dat die vliegtuie wat die goedere gebring het gode was, en het hulle begin altare bou vir die goedere-gode (vragvliegtuie). Hulle het gehoop die gode sou terugkom met meer goedere. Meeste mense dink nie aan goederevliegtuie as gode wanneer hulle verby vlieg nie! So ook dink ons kinders nie aan ander gode as hulle na die kersboom kyk nie. Hulle sien die hoop van ‘n geskenk! Buitendien trek ons vandag as Christene ook die beeld van die kersboom deur na die Stamboom van Jesus – kyk maar na die boom voor in ons kerk: Jesus se gelagsregister is die “ornamente” wat aan die boom hang, met Jesus se naam (Die Ster) heel bo aan. So kan ons dit dus by die ware boodskap van Kersfees laat aansluit! Jesus was ons geskenk waarop ons gehoop het en gekry het! Versier gerus daardie boom en onthou die hoop en vrede wat Christus vir ons gebring het en dat Hy belowe om ons eendag te kom haal. Geniet die kersseisoen en kom veilig weer terug in Januarie. Ons kan saam aan die ekstra kilogramme werk! Eddie Aangepas en vertaal uit John MacArthur Should Christians have Christmas trees? (Soos verskyn in die Kerkbode 23 November 2016)
Op 11 November 2010 is ek gelegitimeer as ‘n proponent van die NG Kerk by Universiteitsoord NG Gemeente in Pretoria. Die rubberstempel is afgedruk op my vermoë om bedienaar van die Woord te wees in die NG Kerk. Dit was ‘n groot oomblik vir my. Amper heilig. Die verantwoordelikhede en voorregte van ‘n baie besonderse amp is op my skouers geplaas. Dit was ‘n mooi geleentheid, maar op Vrydag 9 Oktober 2015 het die belangrikste legitimasie van my lewe plaasgevind, baie belangriker en beter en heiliger as my eerste legitimasie. Die NG Kerk het op hierdie dag by die Algemene Sinode erkenning gegee aan die diversiteit wat huwelike oftewel verhoudings in die kerk kan aanneem. Daar is besluit om verbintenisse tussen mense van dieselfde geslag te erken en gemeentes die geleentheid te gee om hieraan uitdrukking te gee deur sulke verbintenisse te voltrek as hulle sou wou. Laasgenoemde was my mooiste, heiligste legitimasie oomblik. My gesin, my hele lewe is weer deur die kerk ge-rubberstempel. Sien, ek het in ‘n gay huishouding grootgeword. Ek het twee ma’s. Twee ma’s wat my deur skool en Universiteit gesit het (sonder enige hulp of ondersteuning van my biologiese pa). Twee ma’s wat my dinge oor die lewe geleer het, getroos het as my hart gebreek was, gehelp het met my wiskunde, my rondgery het vir buitemuurse aktiwiteite en saam met my om die tafel hande vasgehou het as ons gebid het voor ons geëet het en uiteindelik gehelp het om vir my en my vrou die mooiste troue te reël. Twee ma’s wat al baie ter wille van my moes ontken wie hulle is in die publiek. Twee ma’s wat my liewer gehad het en veiliger laat voel het as wat ek ooit sou voel as my biologiese ma en pa steeds bymekaar was. Want in ons huis was liefde, deernis en leiding te vind. Maar op 10 November 2016 het die kerk my grootste legitimasie teruggetrek. Die sinode het weer besin en besluit dat my gesin, my lewe, nie geldig is nie. Dat al die veiligheid en liefde wat ek daar ervaar het ‘n klug was. Net so. Ooms en tannies het ‘n rooi streep deur my gesin kom trek. Skielik is ons weer ongeldig en ‘n bedreiging vir die instansie van die huwelik. Ek is gelukkig getroud en bedien voltyds in ‘n gemeente van die NG Kerk. My ouers was goed genoeg om my deur my Teologiese Studies te sit, my Sondae kerk toe te vat en my ma was selfs goed genoeg om my Toga oor my skouers te hang toe ek as leraar bevestig is, maar ons is nie goed genoeg om gelegitimeer te word as ‘n gesin nie. Ek kan nie help waar ek vandaan kom nie. Dis nie vir my ‘n belemmering of skande nie. Ek is nie skaam daaroor nie. En na weke se wroeging is ek finaal verlos van my behoefte aan die NG Kerk se legitimasie. Dit pla my nie meer wat die ooms en tannies by ‘n sinode van my gesin sê of dink nie. Die Sinode weet ook waar ek bly as hulle my ander legitimasie sertifikaat ook wil kom terugvat. Soos Joshua sou gesê het: Hou maar julle sinodes, druk julle rubberstempels af waar julle wil, maar ek en my huis, ons sal die Here dien. Die vers wat Wilhelm Jordaan tydens ‘n ontnugterende sinode oomblik jare gelede geskryf het, het vanoggend weer opnuut iets in my gemoed kom wakker maak: Die sinode was in sitting toe iemand hierdie nota bring: “O God is Jesus hier skrik vra die Breë Moderatuur... Broers kom ons volg die reël: Die Regskomissie sal besluit oor die man wat buite straan se lidmaatskap en geldigheid.” Eddie Hierdie is ‘n vraag waaroor mense nie praat nie….. omdat dit onbelangrik beskou word en as ‘n mens die vraag vra lyk dit dalk of jy onvolwasse is in jou christenskap.
Wees gerus. Ek is seker almal van julle het al daaroor gewonder. Toe erken dit! Wie van julle het nog nie vir julle kinders vertel hulle hondjie is in die hemel wanneer hulle hartverskeurend huil, terwyl julle goed weet dat julle nie seker is of dit waar is nie? Maar wat is die antwoord? Kom ons kyk wat sê die Bybel… Die Bybel noem nêrens spesifiek of diere ‘n siel het of hemel to gaan nie. Ons kan wel kyk na party van die bybelse verwysings. In Genesis 2:7, 7: 22 word genoem dat beide man en dier die “lewensasem” het. Dit is nie seker of dit verwys na ‘n siel of bloot die lewe nie. Die grootste verskil is wel dat ons na die beeld van God geskep is met ander woorde met die eienskappe van byvoorbeeld emosie, geloof, oordeel en lewe na die dood. In Jesaja 65:25 sê die Bybel: “Die wolf en die lam sal saam wei, die leeu sal strooi vreet soos ‘n bees…” Is dit beeldspraak en/of relevant tot die hemel, of nie? Lukas 12:6 fokus op die waarde van die mens en dier vir God: “Word vyf mossies nie vir twee sent verkoop nie? Tog word nie een van hulle deur God vergeet nie.” God sê wel ook ons is meer werd as mossies. In Prediker 3:18 – 21 is geskryf: “….hulle moet insien dat hulle niks anders as diere is nie. Een en dieselfde lot tref mens en dier, hulle almal gaan dood, die een soos die ander. Almal het net een asem. Die mens is nie beter daaraan toe as die dier nie. Alles kom tot niks. Almal is oppad na dieselfde plek toe, almal is van stof en almal word weer stof. Wie weet of die asem van die mens opstyg boontoe en of die asem van die dier afgaan onder toe?” So wat is dan die gevolgtrekking? ONS WEET NIE! Wat ons wel weet is dat die belangriker vraag is of ONS in die hemel gaan wees! Dit maak nie saak of ons diere daar gaan wees as ons nie daar is nie. Al hoe ons kan weet is om self in die hemel te kom. Dit is my gebed vir elkeen van julle! Gaan gee om vir julle diere en vir mekaar, Eddie Ek het hierdie week uitgevind wat die nadeel is van die slim kinders wat ons ontwikkel deur hulle gedurig te stimuleer met inligting en wie ons aanmoedig om te dink! :-) ‘n Sekere klein wysneus graad 2 seuntjie het die vraag vir sy ma gevra wat baie groot mense nie durf vra nie: “Mamma, as God alles gemaak het, wie het Hom gemaak?” Nou ja, ons kan seker die tradisionele christen-ding doen en net sê ons het nie al die antwoorde nie en ons moet eendag vir God vra in die hemel. Dit hou ten minste die kinders gelukkig vir ‘n klein rukkie. Maar vir hoe lank en hoe antwoord ons die ‘groot’ mense wat dit as rede gebruik om nie in God te glo nie? Soos voorheen in een van my preke genoem, is die mens geneig om God binne ons eie raamwerk van Wetenskap, tyd en ruimte te plaas. Wetenskap is al voorheen as ontoereikend bewys soos wat meer bewyse gevind word. ‘n Goeie voorbeeld hiervan is natuurlik dat wetenskaplikes geglo het die Aarde was plat en later uitgevind het dat dit inderdaad rond is. En dan die kwessie van tyd en ruimte! God sê vir Moses en by implikasie vir ons in die Bybel: “Ek is” en ons wil Hom nouer definieer om binne ons kennisraamwerk te pas, met ander woorde ons wil die "Ek is……" sin voltooi. Ons sal moet GLO dat ons nie God binne hierdie raamwerk kan definieer nie want ons kan ongelukkig nie hierdie vrae wegredineer met universeel-aanvaarbare argumente nie. Geloof opsigself is eintlik waar ons struikel. Ons het hieraan geraak in die blogartikel oor die opstanding. Aan die ander kant het Wetenskap ook nie die antwoorde nie. Dit kan nie 'n verduideliking bied vir die gevoel wat ons ondervind in terme van God se teenwoordigheid of afwesigheid nie. Dit beteken slegs dat alles nie deur of Wetenskap of Bybelverwysing bewys of beskryf kan word nie. Ons weet op alle vlakke net ten dele en sal nooit alles weet nie. Iemand het dit eendag baie oulik verduidelik. Hy't gesê ons is amper soos 'n matrasgogga. Ons verwysingsraamwerk is slegs dit waarvan ons weet maar dit maak nie die res onwaar nie. 'n Bedgogga se verwysingsraamwerk is slegs die matras en hy weet nie eers van die wêreld wat buite dit bestaan nie. Ons as mens verstaan dat dit nie slegs die matras is wat bestaan nie en dat daar meer is as waarvan die gogga weet. So ook is ons verwysing die Aarde, en so 'n klein deeltjie van die heelal wat ons al ontdek het, maar ons het geen idee wat verder as dit strek nie. Die goeie nuus is God weet!! So wat antwoord ons daardie graad 2 seuntjie? Amper soos die oumense sou sê: “Wag tot ons in die hemel kom, dan vra ons vir God!” maar brei dalk net uit om te sê ons kan nie God verstaan deur te dink soos mense nie omdat Sy reëls anders is as die mens s’n of dit wat die mens verstaan. Ons sal graag wil hoor hoe julle daaroor dink en voel. Los asseblief vir ons kommentaar op ons webwerf oor hierdie of ander aangeleenthede waar ons mekaar kan bystaan. Tot volgende keer, geniet al die vrae van ons kinders wat ons geloof toets! Eddie Hierdie blogtema is ‘n regte tameletjie! Wat moet ons as Christene doen met mense wat ons boelie deur heeltyd te kritiseer of ons emosioneel dreineer deur fout te vind met alles wat ons doen? Mag ons terugkap? Moet ons net stilbly en die ander wang draai? Moeilike mense is oral, soms is dit onsself, en hulle het net hierdie talent om goed vir ons te sê op ons slegste dag met geen besef van die impak op ons gevoelens nie. Kritiese mense is geneig om hulleself af te stomp van emosies en te verwag dat ander dieselfde moet doen. Die volgende perspektief het ek eens gesien in ‘n Lakeside Christian artikel. Alle negatiewe mense gaan nie verdwyn nie en sodoende moet ons leer hoe om hulle te hanteer.....of belangriker, hoe om dit nie te doen nie.
Kom ons kyk, soos die armbandjie sê, Wat Sou Jesus Doen? Matteus 5:38 – 41 sê: Julle het gehoor dat daar gesê is: “’n Oog vir ‘n oog en ‘n tand vir ‘n tand. Maar Ek sê vir julle, julle moet julle nie teen ‘n kwaadwillige mens verset nie. As iemand jou op die regterwang slaan, draai ook die ander wang na om toe.” Jesus was gereeld in die midde van moeilike mense, boelies, kritikuste as jy wil. Mense wie nie verstaan het nie, wie nie van Hom gehou het nie, wat deur Hom geintimideerd gevoel het en selfs mense wat Hom wou doodmaak. Jesus het nooit tot hulle vlak gedaal deur aggressief op te tree nie. Jesus het Homself beheer. Hy was nooit impulsief nie maar Hy het ook nie stilgebly nie. Hy het sy vyande gekonfronteer met waarheid en genade. Soms weerhou ons die waarheid omdat ons nie die risiko wil neem van die potensieële aanslag nie. Moet nooit die waarheid oor hoe jy voel weerhou nie. Ons bly baie maal stil omdat ons dink kritiese mense weet hoe hulle ons laat voel en hoe destruktief hulle woorde en optrede is. Dit maak ons later slawe van hulle ongegronde optrede omdat ons nie die moed het om die waarheid met hulle te bespreek nie. Hulle weet dalk regtig nie. Sê liewer dit is hoe jou optrede my laat voel. Mense kan nie stry teen die waarheid van hoe iets jou laat voel nie. Jou gevoelens is werklik. Saam met dit moet ons gewillig wees om genade te weerspieël in ons optrede. Dit verg ‘n baie sterk karakter en krag. Ons moet ons tonge met dissipline gebruik en steeds ‘n gevoel van warmte uitstraal. As ons net vir ander opreg goeie dinge verlang, mense opbou en vergewe, doen ons wat God van ons verwag en is dit geensins ‘n teken van swakheid nie. 1 Petrus 4: 8 sê: “Bo alles moet julle mekaar hartlik liefhê, want die liefde bedek baie sondes” Om die waarheid te praat sonder genade, maak ons aanvallend. Om die waarheid te weerhou en net genade te bewys, maak ons ‘n deurmat en vals. Om beide te weerhou bereik absoluut niks en maak ons onsself net deel van die boelie-optrede-probleem deur dit aan te wakker. In opsomming, weerspieël die waarheid. Wees pro-aktief as iemand teen jou sondig. Vertel hom/haar hoe dit jou laat voel. Weerspieël wel ook genade. En as jy hierdie lees en jy vermoed jy is moontlik, soms of gereeld, die boelie of kritikus, onthou dat wat jy glo die waarheid oor ‘n situasie is, net jou perspektief is en dat jou opinie nie meer gewig dra as die een wie onder jou tong deurloop nie. Neem ook naasteliefde en genade in ag en besluit of dit wat jy sê enigsins waarde sal byvoeg by die situasie en of dit opbouend is vir die persoon of julle verhouding. Maak dit regtig saak of jy reg is? Is dit die moeite werd om dit wat jy wil sê te sê? ‘n Mens kan nooit verkeerd gaan met Jesus-optrede nie. Eddie As christene is die opstanding sekerlik die belangrikste gebeurtenis in ons geskiedenis. Dit is waarop ons ons hoop vir verlossing bou! Dit is ook die rede dat ons op Sondae die “Sabbat” vier en nie op Vrydae van sononder tot Saterdae sonop (soos die gebruik was in die tyd van die Bybel) nie – Dit is die dag waarop Jesus opgestaan het! Daar is darem so baie dinge wat egter in die Bybel vir ons moeilik is om te glo... Dat ‘n ‘mens’ vir ons sonde gesterf het, wat nog te sê dat Hy weer lewendig geword het nie? Diep binne in ons wil wil die twyfel deurskemer en dan berispe ons onsself en besluit dat ons nie daaroor mag dink of wonder nie! Is ons net geïndoktrineer deur ons ouers tydens ons grootwordjare of is die opstanding vir ons ‘n werklikheid? Julle sal dalk sê: “skuif opsy die weerlig gaan jou tref!”, soos ons soms ligtelik vir mekaar sê as iemand durf waag die moeilike vrae vra! Hoe kan ons weet dat die opstanding waar is en dat Jesus ons sonde op Hom geneem het? Kan ons feite uit die Bybel aanhaal om die opstanding, ons geloof of wonderwerke te staaf? Natuurlik vanaf die woorde van Jesus self wat Sy kruisiging voorspel tot die vier verskillende evangelies geskryf deur verskillende mense! Maar dit neem in ag dat die persoon met wie jy praat (en soms jyself) die Bybelse historiese feite moet glo. Die probleem? Ons almal verwoord ons geloof anders... Selfs al dink ons nie so nie – lyk nie een van ons se geloof eenders nie (as dit iets sou wees wat meetbaar is). Hoeveel te meer as dit by wonderwerke – of selfs die Opstanding kom!? Die beste manier hoe ek binne myself omgaan met die verskil in mense se geloof – vind ek in die Johannes Evangelie se vertelling van die opstanding in Johannes 20:1-31. Die Sondag more vroeg kom Maria Magdalena by die graf en sien dat Jesus se liggaam weg is. Sy hardloop en vertel die ander dissipels dat hulle sy liggaam gesteel het. Twee van hulle – Petrus en die Liefling Dissipel (Johannes)- hardloop om eerste by die graf te kom. Johannes kom eerste en loer in – maar gaan nie in nie. Petrus kom laaste daaraan, maar gaan eerste in en sien die doeke daar lê. Dan gaan Johannes ook uiteindelik in en sien die doeke. Al twee van hulle glo dadelik toe hulle die doeke sien! Dan vertel Johannes hoe Maria Magdalena by die graf gestaan en huil het. Sy het nie geglo nie. Sy dink Jesus se liggaam is gesteel en toe Hy self voor haar verskyn sien sy Hom sommer vir die tuinier aan! Eers toe Hy haar naam roep – besef sy wie Hy is. En sy glo! In die laaste deel van Johannes se vertelling van die Opstanding het ons vir Tomas... Die een wat daarop aandring om sy vingers en hande in Jesus se wonde te druk voor hy sal glo. Uiteindelik nooi Jesus hom ook om dit te doen, waarna Tomas bely: “My Here en my God!!” Jesus sluit sy verskyning aan die Dissipels ook dan af met: “Glo jy nou omdat jy My sien? Gelukkig is die wat nie gesien het nie en tog glo!” Elkeen van die Dissipels het op ‘n ander manier geglo in die Opstanding. Petrus en Johannes toe hulle die doeke sien (alhoewel Johannes eerste daar was, maar nie wou ingaan nie – dalk bang dat Jesus se liggaam nog daar sou wees en dit beteken Jesus het nie opgestaan nie!?). Maria glo nie as Jesus voor haar staan nie, maar eers as hy haar naam roep. Tomas glo nie voor hy sy hande in Jesus se wonde mag druk nie... Dis okay om te twyfel soos Tomas. Dis ook okay om nie daaroor te wil redeneer nie, omdat jy dalk soos Petrus en Johannes instinktief seker is oor die opstanding. Jesus sê dan self dat Hy weet mense gaan sukkel om dit te glo. Een ding wat al die dissipels egter in gemeen gehad het, was dat hulle Jesus liefgehad het en toegelaat het dat Hy Homself aan hulle openbaar na die Opstanding op hulle eie manier. Tomas MOES EERS sy hande in die wonde druk. Maria MOES EERS haar naam uit Jesus se mond hoor. Petrus en Johannes MOES EERS die opgevoude doeke sien... En so MOET ek en Jy die Here op ons eie manier in ons lewens ontmoet. Die Opgestane Heer! Hy weet wie jy is, en waar jy vandaan kom. Hy weet waarmee jy in die geloof worstel... Maar as ons Hom toelaat sal ek en jy ook die Opgestane Heer ontmoet wanneer hy vir ons elkeen Homself Openbaar deur die Heilige Gees. Daar is nie ‘n geloof-resep nie. Die Opstanding is nie iets wat wetenskaplik bewys of gestaaf kan word nie. Tog bly dit die Hoop van ons Geloof: Die Hoop dat alles nie maar net eindig by die Dood nie. Dat die lewe altyd sterker is as die dood. So of jy ‘n Petrus is, of ‘n Johannes, of ‘n Maria of selfs ‘n Tomas – Die Opgestane Heer bring vir ons Hoop in hopelose omstandigehede, waar ons is, soos ons is. Eddie !!!Vrywaring: As jou kinders uitsien na die koms van die Paashaas of Kersvader in Desember, moenie hulle verder laat lees nie!!!
Ons is nou al vir ‘n rukkie besig met die viering, as ‘n mens dit so kan noem, van die lydenstyd van Jesus. Elke jaar word dit oorskadu deur plakkate van hasies en eiers. Kinders raak opgewonde oor ‘n paaseierskattejag en die vooruitsig van hope sjokolade! Die vraag wat ouers baie mee worstel is, is dit verkeerd dat my kinders deelneem aan hierdie fantasie-spel? Dit geld natuurlik ook vir Kersvader en tot ‘n mindere mate die tandmuis, feetjies en kabouters. Ek het al gewonder of daar skade aangerig word wanneer kinders uiteindelik uitvind hierdie was ‘n ‘speletjie’ en of hulle alles waarin hulle glo begin in twyfel trek as hulle uitvind hulle ouers het die waarheid verberg! Gaan hulle ophou glo in Jesus en God? Daar is natuurlik die kans dat dit tog die gevolg kan wees en sonder om te sê hoe ouers moet optree, sê ek liewer net dat daar met versigtigheid gehandel moet word. Daar is so baie lelik in ons ou wêreld, sekerlik kan ‘n bietjie pret nie skade doen nie! Die feite volgens die Bybel is brutaal, hartseer en intens. Ja, dit is alles waar! Natuurlik moet die kinders se ouderdom in ag geneem word wanneer die feite van Jesus se kruisdood oorgedra word. Maar moet nie vergeet van die wonderwerk wat saam met die kruisdood gaan nie. Jesus het opgestaan! Hy het die lelik, die dood, ons sonde, alles wat donker is oorwin! So in plaas daarvan dat die christelike betekenis van hierdie tyd oorgeneem word deur die fantasie, gebruik hierdie geleentheid om die ware boodskap vas te lê. As hulle paaseiers wil koop, herinner hulle aan die rede waarom daar Paasfees gevier word. Vertel vir hulle dat die paaseier-geskenk ons herinner aan God se grootste geskenk, Jesus Christus wat al ons sonde op Hom geneem het deur aan die kruis te sterf. As hulle ‘n eier-skattejag wil hou leer hulle dat ons nooit vir God se genade, liefde of vergifnis hoef te gaan soek nie. Hy gee dit vir ons, moeitevry, en ons moet dit net aanvaar! Die beste van alles is dat dit ook verniet is vir ons! Die prys is vir ons betaal. So eet gerus daardie heerlike paaseier maar onthou om die boodskap altyd weer terug te bring na die ware betekenis. Tot volgende maand, matigheid voor oë met die sjokolade! Eddie Welkom by ons splinternuwe blog! Ons is voorwaar besig om hierdie jaar met 'n groot geknal af te skop! Met hierdie maand wat wêreldwyd liefde gedenk, pas ons nuwe visie en missie perfek hierby aan. Ons beoog dat die gemeente, asook die gemeenskap, moet weet hulle behoort in ons gesin, hulle is welkom om saam met ons die werking van die Heilige Gees te beleef en ons hoop dit spoor die gemeente aan om te beweeg en hulle harte oop te maak vir mekaar en God soos die grootste gebod ons lei. Mag ons tydens hierdie kommersiële tyd ons aandag wegdraai van die winkels en fokus daarop om uit te reik waar daar nood is, emosioneel of fisies. Ons geloof is nie een van rituele en lysies afmerk om in die hemel te kom nie, maar een van liefde uitleef as gevolg van die genade wat ons ontvang het. Gebruik hierdie tyd om vir ander ook genade te bewys en te demonstreer waarom dit 'n vreugde is om deel te hê aan die liggaam van Christus. Kom ons onthou ook God se grootste daad van liefde volgens Johannes 3:16: "God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat die wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê." Tot volgende maand........Leef in liefde met mekaar, Eddie Lees meer op ons webwerf by www.ngkerklambtongermiston.co.za |
AuthorEduard Enslin Archives
February 2017
Categories |