Hierdie blogtema is ‘n regte tameletjie! Wat moet ons as Christene doen met mense wat ons boelie deur heeltyd te kritiseer of ons emosioneel dreineer deur fout te vind met alles wat ons doen? Mag ons terugkap? Moet ons net stilbly en die ander wang draai? Moeilike mense is oral, soms is dit onsself, en hulle het net hierdie talent om goed vir ons te sê op ons slegste dag met geen besef van die impak op ons gevoelens nie. Kritiese mense is geneig om hulleself af te stomp van emosies en te verwag dat ander dieselfde moet doen. Die volgende perspektief het ek eens gesien in ‘n Lakeside Christian artikel. Alle negatiewe mense gaan nie verdwyn nie en sodoende moet ons leer hoe om hulle te hanteer.....of belangriker, hoe om dit nie te doen nie.
Kom ons kyk, soos die armbandjie sê, Wat Sou Jesus Doen? Matteus 5:38 – 41 sê: Julle het gehoor dat daar gesê is: “’n Oog vir ‘n oog en ‘n tand vir ‘n tand. Maar Ek sê vir julle, julle moet julle nie teen ‘n kwaadwillige mens verset nie. As iemand jou op die regterwang slaan, draai ook die ander wang na om toe.” Jesus was gereeld in die midde van moeilike mense, boelies, kritikuste as jy wil. Mense wie nie verstaan het nie, wie nie van Hom gehou het nie, wat deur Hom geintimideerd gevoel het en selfs mense wat Hom wou doodmaak. Jesus het nooit tot hulle vlak gedaal deur aggressief op te tree nie. Jesus het Homself beheer. Hy was nooit impulsief nie maar Hy het ook nie stilgebly nie. Hy het sy vyande gekonfronteer met waarheid en genade. Soms weerhou ons die waarheid omdat ons nie die risiko wil neem van die potensieële aanslag nie. Moet nooit die waarheid oor hoe jy voel weerhou nie. Ons bly baie maal stil omdat ons dink kritiese mense weet hoe hulle ons laat voel en hoe destruktief hulle woorde en optrede is. Dit maak ons later slawe van hulle ongegronde optrede omdat ons nie die moed het om die waarheid met hulle te bespreek nie. Hulle weet dalk regtig nie. Sê liewer dit is hoe jou optrede my laat voel. Mense kan nie stry teen die waarheid van hoe iets jou laat voel nie. Jou gevoelens is werklik. Saam met dit moet ons gewillig wees om genade te weerspieël in ons optrede. Dit verg ‘n baie sterk karakter en krag. Ons moet ons tonge met dissipline gebruik en steeds ‘n gevoel van warmte uitstraal. As ons net vir ander opreg goeie dinge verlang, mense opbou en vergewe, doen ons wat God van ons verwag en is dit geensins ‘n teken van swakheid nie. 1 Petrus 4: 8 sê: “Bo alles moet julle mekaar hartlik liefhê, want die liefde bedek baie sondes” Om die waarheid te praat sonder genade, maak ons aanvallend. Om die waarheid te weerhou en net genade te bewys, maak ons ‘n deurmat en vals. Om beide te weerhou bereik absoluut niks en maak ons onsself net deel van die boelie-optrede-probleem deur dit aan te wakker. In opsomming, weerspieël die waarheid. Wees pro-aktief as iemand teen jou sondig. Vertel hom/haar hoe dit jou laat voel. Weerspieël wel ook genade. En as jy hierdie lees en jy vermoed jy is moontlik, soms of gereeld, die boelie of kritikus, onthou dat wat jy glo die waarheid oor ‘n situasie is, net jou perspektief is en dat jou opinie nie meer gewig dra as die een wie onder jou tong deurloop nie. Neem ook naasteliefde en genade in ag en besluit of dit wat jy sê enigsins waarde sal byvoeg by die situasie en of dit opbouend is vir die persoon of julle verhouding. Maak dit regtig saak of jy reg is? Is dit die moeite werd om dit wat jy wil sê te sê? ‘n Mens kan nooit verkeerd gaan met Jesus-optrede nie. Eddie
0 Comments
Leave a Reply. |
AuthorEduard Enslin Archives
February 2017
Categories |