!!!Vrywaring: As jou kinders uitsien na die koms van die Paashaas of Kersvader in Desember, moenie hulle verder laat lees nie!!!
Ons is nou al vir ‘n rukkie besig met die viering, as ‘n mens dit so kan noem, van die lydenstyd van Jesus. Elke jaar word dit oorskadu deur plakkate van hasies en eiers. Kinders raak opgewonde oor ‘n paaseierskattejag en die vooruitsig van hope sjokolade! Die vraag wat ouers baie mee worstel is, is dit verkeerd dat my kinders deelneem aan hierdie fantasie-spel? Dit geld natuurlik ook vir Kersvader en tot ‘n mindere mate die tandmuis, feetjies en kabouters. Ek het al gewonder of daar skade aangerig word wanneer kinders uiteindelik uitvind hierdie was ‘n ‘speletjie’ en of hulle alles waarin hulle glo begin in twyfel trek as hulle uitvind hulle ouers het die waarheid verberg! Gaan hulle ophou glo in Jesus en God? Daar is natuurlik die kans dat dit tog die gevolg kan wees en sonder om te sê hoe ouers moet optree, sê ek liewer net dat daar met versigtigheid gehandel moet word. Daar is so baie lelik in ons ou wêreld, sekerlik kan ‘n bietjie pret nie skade doen nie! Die feite volgens die Bybel is brutaal, hartseer en intens. Ja, dit is alles waar! Natuurlik moet die kinders se ouderdom in ag geneem word wanneer die feite van Jesus se kruisdood oorgedra word. Maar moet nie vergeet van die wonderwerk wat saam met die kruisdood gaan nie. Jesus het opgestaan! Hy het die lelik, die dood, ons sonde, alles wat donker is oorwin! So in plaas daarvan dat die christelike betekenis van hierdie tyd oorgeneem word deur die fantasie, gebruik hierdie geleentheid om die ware boodskap vas te lê. As hulle paaseiers wil koop, herinner hulle aan die rede waarom daar Paasfees gevier word. Vertel vir hulle dat die paaseier-geskenk ons herinner aan God se grootste geskenk, Jesus Christus wat al ons sonde op Hom geneem het deur aan die kruis te sterf. As hulle ‘n eier-skattejag wil hou leer hulle dat ons nooit vir God se genade, liefde of vergifnis hoef te gaan soek nie. Hy gee dit vir ons, moeitevry, en ons moet dit net aanvaar! Die beste van alles is dat dit ook verniet is vir ons! Die prys is vir ons betaal. So eet gerus daardie heerlike paaseier maar onthou om die boodskap altyd weer terug te bring na die ware betekenis. Tot volgende maand, matigheid voor oë met die sjokolade! Eddie
0 Comments
Leave a Reply. |
AuthorEduard Enslin Archives
February 2017
Categories |