(Soos verskyn in die Kerkbode 23 November 2016)
Op 11 November 2010 is ek gelegitimeer as ‘n proponent van die NG Kerk by Universiteitsoord NG Gemeente in Pretoria. Die rubberstempel is afgedruk op my vermoë om bedienaar van die Woord te wees in die NG Kerk. Dit was ‘n groot oomblik vir my. Amper heilig. Die verantwoordelikhede en voorregte van ‘n baie besonderse amp is op my skouers geplaas. Dit was ‘n mooi geleentheid, maar op Vrydag 9 Oktober 2015 het die belangrikste legitimasie van my lewe plaasgevind, baie belangriker en beter en heiliger as my eerste legitimasie. Die NG Kerk het op hierdie dag by die Algemene Sinode erkenning gegee aan die diversiteit wat huwelike oftewel verhoudings in die kerk kan aanneem. Daar is besluit om verbintenisse tussen mense van dieselfde geslag te erken en gemeentes die geleentheid te gee om hieraan uitdrukking te gee deur sulke verbintenisse te voltrek as hulle sou wou. Laasgenoemde was my mooiste, heiligste legitimasie oomblik. My gesin, my hele lewe is weer deur die kerk ge-rubberstempel. Sien, ek het in ‘n gay huishouding grootgeword. Ek het twee ma’s. Twee ma’s wat my deur skool en Universiteit gesit het (sonder enige hulp of ondersteuning van my biologiese pa). Twee ma’s wat my dinge oor die lewe geleer het, getroos het as my hart gebreek was, gehelp het met my wiskunde, my rondgery het vir buitemuurse aktiwiteite en saam met my om die tafel hande vasgehou het as ons gebid het voor ons geëet het en uiteindelik gehelp het om vir my en my vrou die mooiste troue te reël. Twee ma’s wat al baie ter wille van my moes ontken wie hulle is in die publiek. Twee ma’s wat my liewer gehad het en veiliger laat voel het as wat ek ooit sou voel as my biologiese ma en pa steeds bymekaar was. Want in ons huis was liefde, deernis en leiding te vind. Maar op 10 November 2016 het die kerk my grootste legitimasie teruggetrek. Die sinode het weer besin en besluit dat my gesin, my lewe, nie geldig is nie. Dat al die veiligheid en liefde wat ek daar ervaar het ‘n klug was. Net so. Ooms en tannies het ‘n rooi streep deur my gesin kom trek. Skielik is ons weer ongeldig en ‘n bedreiging vir die instansie van die huwelik. Ek is gelukkig getroud en bedien voltyds in ‘n gemeente van die NG Kerk. My ouers was goed genoeg om my deur my Teologiese Studies te sit, my Sondae kerk toe te vat en my ma was selfs goed genoeg om my Toga oor my skouers te hang toe ek as leraar bevestig is, maar ons is nie goed genoeg om gelegitimeer te word as ‘n gesin nie. Ek kan nie help waar ek vandaan kom nie. Dis nie vir my ‘n belemmering of skande nie. Ek is nie skaam daaroor nie. En na weke se wroeging is ek finaal verlos van my behoefte aan die NG Kerk se legitimasie. Dit pla my nie meer wat die ooms en tannies by ‘n sinode van my gesin sê of dink nie. Die Sinode weet ook waar ek bly as hulle my ander legitimasie sertifikaat ook wil kom terugvat. Soos Joshua sou gesê het: Hou maar julle sinodes, druk julle rubberstempels af waar julle wil, maar ek en my huis, ons sal die Here dien. Die vers wat Wilhelm Jordaan tydens ‘n ontnugterende sinode oomblik jare gelede geskryf het, het vanoggend weer opnuut iets in my gemoed kom wakker maak: Die sinode was in sitting toe iemand hierdie nota bring: “O God is Jesus hier skrik vra die Breë Moderatuur... Broers kom ons volg die reël: Die Regskomissie sal besluit oor die man wat buite straan se lidmaatskap en geldigheid.” Eddie
0 Comments
Leave a Reply. |
AuthorEduard Enslin Archives
February 2017
Categories |